Barack Obama

Barack Obama
44ste President van die Verenigde State
Ampstermyn 20 Januarie 2009 – 20 Januarie 2017
Voorganger George W. Bush
Opvolger Donald Trump
Geboortedatum 4 Augustus 1961
Geboorteplek Honolulu (Hawaii)
Sterftedatum
Sterfteplek
Eerste Dame Michelle Obama
Politieke party Demokraat
Visepresident Joe Biden
Handtekening
Barack Obama
Barack Obama

Sekretaris-generaal van die Demokratiese Party
Ampsbekleër
Termynaanvang
20 Januarie 2017

Senator vir Illinois
Ampstermyn
8 Mei 2006 – 8 Mei 2007
Opgevolg deur Bill Clinton

Persoonlike besonderhede
Politieke party Demokratiese Party

Barack Hussein Obama II ([bəˈɹɑːk huˈseɪn oʊˈbɑːmə] ; * 4 Augustus 1961 in Honolulu, Hawaii) is op 20 Januarie 2009 ingehuldig as die 44ste president van die Verenigde State. Hy het in die Amerikaanse Kongres die amp van Juniorsenator vir die deelstaat Illinois beklee en is die vierde jongste kandidaat wat ooit as president verkies is.[1] Hy is daarnaas ook die eerste boorling van die deelstaat Hawaii wat die presidentsamp beklee.

Obama is die seun van 'n Keniaanse vader, Barack Obama, en 'n Amerikaanse moeder, Ann Dunham, wat in 'n Russies-klas by die Universiteit van Hawaii ontmoet het. Hy is in die eerste ses jare van sy lewe in die Hawaiïese hoofstad Honolulu grootgemaak en het daarna met sy moeder en sy Indonesiese stiefvader Lolo Soetero na Djakarta in Indonesië verhuis, waar hy tot op die ouderdom van tien jaar gebly het.

Obama het akademiese grade aan die Columbia-universiteit en aan die Harvard-universiteit se regsskool behaal en daarna 'n loopbaan as gemeenskapsorganiseerder en universiteitsdosent in Chicago, Illinois begin. Later het hy as advokaat vir burgerlike regte gepraktiseer. In die periode tussen 1997 en 2004 was hy 'n lid van Illinois se senaat. In 2000, het hy as kandidaat vir 'n setel in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gestaan, maar is uiteindelik nie verkies nie. In 2003 het hy aangekondig om as kandidaat vir die Amerikaanse Senaat te staan.

As 'n verteenwoordiger in Illinois se Huis van Verteenwoordigers het hy tydens die Demokratiese Party se Nasionale Byeenkoms op 27 Julie 2004 in Boston die sleuteltoespraak gelewer. In November van dieselfde jaar is hy met 'n meerderheid van 70 persent van die uitgebragte stemme tot die Amerikaanse Senaat verkies.

As 'n lid van die Demokratiese minderheid in die VSA-Senaat was hy by die indiening van 'n gemeenskaplike wetsontwerp van Demokrate en Republikeine ten opsigte van die beheer van konvensionele wapens betrokke en het hom ten gunste van 'n meer verantwoordelike besteding van federale fondse en toesighouding daaroor uitgespreek.

Obama het amptelike besoeke aan Oos-Europa, die Midde-Ooste en Afrika afgelê. Nadat hy in Februarie 2007 sy kandidaatskap vir die nominasie as Demokratiese presidensiële kandidaat aangekondig het, het Obama hom ten gunste van 'n einde van die Amerikaanse oorlogvoering in Irak, groter onafhanklikheid ten opsigte van energiebronne en die daarstelling van 'n algemene nasionale gesondheidsstelsel as sy politieke prioriteite uitgespreek.

Obama se presidensiële verkiesingsveldtog het in 2007 begin. Nadat hy die wedloop teen sy teenstander in die voorverkiesings van die Demokratiese Party, Hillary Rodham Clinton, gewen het, is Obama amptelik as kandidaat genomineer. In die presidensiële verkiesing van November 2008 het hy die Republikeinse teenkandidaat John McCain verslaan. Nege maande ná sy inhuldiging is Obama as wenner van die Nobelprys vir Vrede aangewys.[2] In April 2011 het hy aangekondig dat hy vir 'n tweede ampstermyn sou staan en op 6 November 2012 sy Republikeinse teenstander, goewerneur Mitt Romney, in die presidentsverkiesing verslaan.

Obama en sy vrou Michelle, met wie hy in 1992 getrou het, het twee dogters, Malia en Sasha. Hy het twee blitsverkopers gepubliseer: 'n Outobiografie oor sy jeug Dreams from My Father ("Drome van My Vader") en The Audacity of Hope ("Die Stoutmoedigheid van Hoop"), waarin hy persoonlike kommentaar op die Amerikaanse politiek lewer. Die inkomste van 4,2 miljoen VSA-$, wat die Obamas in 2007 verdien het, is grotendeels deur tantieme op boeke gegenereer.[3]

  1. Shear, Michael D. en Anne E. Kornblut: A Historic Inauguration Draws Throngs to the Mall. In: www.washingtonpost.com, 21 Januarie 2009
  2. "The Nobel Peace Prize 2009" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2018. Besoek op 6 Oktober 2017.
  3. Gruber, Peter; Joachim Hirzel; Nadja Matthes; Jürgen Schönstein; en Stefan Wagner: Obamas Kraftakt. In: Focus, nommer 5/2009, 26 Januarie 2009, bl. 121

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search